JAKO MEYER, ook bekend as die hoofsanger van die rock groep Moses Metro Man en Suid-Afrikaanse akteur, het pas sy debuut solo enkelsnit, DINGE WAT ONS AL VERGEET HET vrygestel. DINGE WAT ONS AL VERGEET HET is in Junie 2017 deur JAKO geskryf. Die lied is geinspireer deur die laaste drie jaar van sy lewe waar hy nuwe legkaarte moes bou uit vorige teleurstellings. “Ironies dink mens jy is op jou eie, maar daar is altyd iemand wat saam met jou aan jou tasse dra. En dan onthou mens weer dinge wat jy lankal vergeet het, wat jou gesond maak.” Die liedjie handel oor twee mense wat mekaar met deernis help om weer die stukkies van die lewe op te tel; ’n positiewe uitkyk wat mens laat onthou dat daar altyd iets is wat jy aan 'n situasie kan doen om dit dit beter te maak.
JAKO se solo musiek is baie meer akoesties van aard as die musiek wat aanhangers ken van hom as deel van Moses Metro Man. So ook is DINGE WAT ONS AL VERGEET HET ’n sterk melodiese, akoestiese lied wat met deursny lirieke gedryf word. JAKO se sterk tenoor stem kom tot sy volle reg. Die lied bevat ook groot, lang note wat eie aan JAKO se sang is en ’n sterk koor met treffende, eerlike lirieke in die vers. Almal wat al deur ’n traumatiese ervaring of lewensveranderende gebeurtenis geraak is, en daaruit opgestaan het, behoort aanklank te vind by die lied. “Vir jare lank skaaf en skuur ek aan 'n meer volwasse Jako; ek voel die tyd is reg om op 'n meer akoesties en intieme vlak mense te betower. Ek kan nie wag om meer van my gedigte te toonset, en my eie grense verder te verskuif nie.”
Comentários