top of page
Writer's pictureLouise Pieterse

INNIBOS ROCK-RUMOER KOMPETISIE



Jy is deel van die coolste band met die beste songs ooit, net jammer die enigste gehoor wat julle tot dusver gehad het, is jou ouers (want die huis waar julle jam behoort aan hulle) en jou klein sussie (want sy’s omgekoop met selfoon-data). Gryp nóú die kitare, want dit is tyd vir roer en rumoer tot op die verhoog om R25 000 prysgeld los te rock!

Innibos-kunstefees in Nelspruit bied vanjaar die eerste keer ’n landwye kompetisie aan vir bands om mee te ding en op te tree op die MK-rockverhoog tydens die 2016-fees. Boonop sal die twee wen-bands die volgende aand in die line-up wees van die grootste rockkonsert op die hoofverhoog met Karen Zoid, Kahn Morbee, Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Black Cat Bones, Dan Patlansky en Albert Frost. Dít is cool.

Alle bands landwyd wat bestaan uit drie maar nie meer as ses lede nie – waarvan almal ouer moet wees as agttien jaar – en nuut is op die toneel kan inskryf vir die Innibos RockRumoer-kompetisie. (Jammer, as julle reeds gevestig is en ’n CD-kontrak het mag julle net kom kyk en luister.)

Rockers moet egter gou spring, want hoewel die kunstefees eers einde Junie 2016 afskop, is die sluitingsdatum vir die RockRumoer reeds op 29 Februarie 2016 en geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.

Om in te skryf, moet elke band ’n video-clip en twee liedjies (MP3’s) saamstel waarvan 20 finaliste s’n op die Innibos-webwerf geplaas word. Nadat die publiek en fans vir hulle gunsteling band op die webwerf gestem het, sal 10 finaliste op 2 Mei 2016 aangekondig word.

Al 10 band-finaliste sal optree tydens die Innibos RockRumoer-kompetisie op Woensdag, 29 Junie 2016 op die MK-verhoog op die feesterrein – ’n ware battle of the bands. ’n Keuringspaneel bestaande uit bekende rockers en mense uit die musiekbedryf sal twee bands aanwys waarvan een die volgende aand tydens die rockkonsert as die top-band uit die stryd van die snare sal tree met die wengeld van R25 000 in die sak.

Pryse sal ook toegeken word aan die beste sanger, die beste kitaarspeler, die beste tromspeler en die beste baskitaarspeler. Elkeen van dié wenners kry R1 000.

Innibos weet bands betaal meestal meer om by gigs uit te kom as wat hulle verdien, daarom word ’n reistoelaag, slaapplek in ’n koshuis en eetbewyse aan al tien finalis-bands verskaf.

“Daar is ’n magdom talentvolle rockers wat verdien om gehoor te word, en met die RockRumoer-kompetisie wil Innibos-kunstefees hulle ’n kans gee,” sê Adelene Niehaus van Innibos, die projekbestuurder van die RockRumoer kompetisie. “Met die bystand van uitsonderlike tegnici in klank en beligting glo ek ons gaan lekker verras wees deur die gehalte van die bands. Ons hoop die RockRumoer word dié kompetisie waar nuwe rockers hulle kan laat geld.”

Vir meer inligting en inskrywingsvorms, kyk op www.innibos.co.za onder “inskrywingsvorms” of e-pos adelene@innibos.co.za.


6 views0 comments

Comments


bottom of page