top of page

FRANCOIS VAN COKE ALBUM REVIEW



As enige iemand vir jou sê hulle was nie seker of Francois van Coke se solo album sal kan kers vashou nie, dan lieg hulle. Deur die jare het Francois deeglik bewys dat als waarop sy naam sal verskyn ‘n stukkie kwaliteit sal wees. Die geheim met hierdie probeerslag het daarin gelê om voorspelbaarheid te ontwyk maar steeds eerlik en eie aan homself te bly. Die vraag bly dan staan, hoe suksesvol was hierdie probeerslag?

Toe die eerste enkelsnit die lig gesien het was daar maar gemengde gevoelens. Die standaard is steeds hoog genoeg om ‘n paar mense aan die gons te kry, maar persoonlik sou ek “Moontlik Nooit” net mooi op sy plek gelos het op snit 8 of 9. “Moontlik Nooit” word toe opgevolg deur “Toe vind ek jou” en die herrie is sowaar los… 300 000 trefslae in enkele ure! Dit het sowaar die mees suksesvolle lied van die jaar (laaste 5 jaar selfs) geword. Skielik raak die metode agter hierdie strategie meer duidelik.

Eerste enkelsnit: Aptydwekker. Tweede vrystelling: Hoofgereg. Die album? ‘n Goed gebalanseerde en wel deur denkte nagereg.


Dis betowerend om die minste te sê en daar is ‘n oorvloed van tegniese vaardighede en emosie. Die blote volgorde van snitte is ‘n kunswerk op sy eie. Die strukturering wissel konstant en hou die luisteraar deurgans op sy tone. Dis moeiteloos om al 12 snitte te luister en sommer gou weer die herhaal knoppie te druk.

Sy mede musiekmakers op hierdie album kom steeds uit sy binnekring, maar bied ‘n vars blik op sogenaamde “Bellville rock”. Jedd Kossew staan sterk met elektrifiserende kitaar riffs wat jou harsings binnedring en jou dwing om te luister. Hipnotiserend om die minste te sê. Die engelsman spog ook deesdae met ‘n selversekerde Afrikaanse woordeskat wat hy goed aan die werk sit om komplimenterende harmonië te lewer. Op dromme is Die Heuwels Fantasties se Sheldon Yoko en hy smeld moeiteloos saam met die meer “adult contemporary” gevoel wat gebied word. Sterk op ritmes maar steeds simplisties genoeg om ‘n breë mark te dien. Richard Onraet op kitaar en Dolf Willemse op bass en klawers bied ‘n foutlose afronding tot hierdie meesterstuk.

Persoonlike gunstellinge is “Skip” waarop Laudo Liebenberg sy stem verleen en ook “Waar daar ‘n wil is” wat vinnig my motiverings liedjie geword het. Daar is geen doel daarin om “Toe vind ek jou” te noem of bespreek nie want elkeen wat hierdie liedjie al 500 keer nes ek geluister het, sal saamstem dat dit ‘n onverklaarbare towerspel is.


Francois het vir seker ‘n wenner op sy hande en hierdie afwisseling was brood nodig om te verseker hy sal kan terugkeer met ‘n vinniger, harder en sterker Van Coke Kartel/Fokofpolisiekar album. So glo dit of nie, maar Francois van Coke het WEEREENS die standaarde onhaalbaar hoog gestel.

Sterkte aan elke musikant wat hierdie album moet opvolg…

2 views0 comments

댓글


bottom of page