top of page

ALBUM REVIEW: FOKOFPOLISIEKAR "SELFMEDIKASIE"



Dis met goeie rede dat hierdie resensie eers ’n tydjie na die album se vrystelling verskyn. Daar was baie hype en die stof moes eers bedaar. Dit is immers een van SA se mees ikoniese bands se eerste albumuitreiking na meer as ’n dekade se stilte. En met meer as ’n miljoen rand in crowd funding-kapitaal tot hulle beskikking, het fans en critics asems opgehou vir wat verseker as ’n hoogtepunt op die 2017 musiekkalender beskou kan word.

Nes baie ander, volg ek FPK se reis in die industrie al vanaf hulle beginjare en moes ek ook doelbewus alle nostalgie en emosionele konneksies kant toe skuif om werklik oopkop na Selfmedikasie te kon luister. Ek dink dis net natuurlik dat ’n mens die album wil opweeg teen hulle vorige populêre vrystellings, soos Lugsteuring en Brand Suid-Afrika. Die 2004-jy wil graag hê daar moet ekwivalente van “Bid Vir My” en “Angs Aanval” wees, maar die 2017-jy besef dat die FPK-manne self ouer geword het en nie meer met oortuiging oor 2004-issues kan sing nie, al wil hulle ook. Hulle het grootgeword en die musiek moes noodgedwonge ook.


Reeds vanaf die eerste snit, “Dis in my bloed, baby”, is dit dudielik dat FPK nie hulle edge verloor het nie. Behalwe dis ’n nuwe tipe, onbekende edge. En as Francois met hierdie song as die set se opener reeds na die eerste vers tydens die live shows in die gehoor in stage dive, weet jy sommer met ’n geruste hart dat die vyftal nog hard kán en wíl ruk en rol. Ander harde nommers op die album, sluit in “Afgesonder”, “B2CY” en “Selfoontoring van Babel”. Elk netjies vervaardig en afgerond, maar steeds rof genoeg om die ou rock aanhangers se harte te steel. In skerp kontras, is daar rustiger songs wat weer die groep se deernis en sagter kant wys. Soos altyd weet FPK hoe om mense te laat luister.

Dis duidelik dat FPK nou met ander oë na die wêreld kyk. Waar daar in die verlede baie vrae gevra is, is hulle nou meer vasbeslote oor wie hulle is en hoe hulle die wêreld sien. Progressie is noodsaaklik in enige band se loopbaan en met FPK was dit geen uitsondering nie. Temas van verganklikheid, die ewige rusie teen ’n ordinêre bestaan en ware liefde wat altyd sal seëvier, kry voorkeur op hierdie album. Die ink in Hunter en kie se pen is duidelik nog nie droog nie en dieselfde tipe poëtiese beeldspraak van hulle vorige albums is ook op Selfmedikasie te bespeur. Beelde soos “robot god spinnekop”, “vigilante guillotine”, “paleisale Toskaanse tronke”, “panga-oorde” en “burokratiese hiernamaals” (die lys is eindeloos) sal die digter in elke luisteraar vir baie lank boei en verwonder.

Dis basies onmoontlik om gunstelinge op die album uit te sonder, omdat elke snit ’n ander sy van FPK se persona ten toon stel en tesame ’n lekker geheel vorm. Daar is oorgenoeg variasie om enige smaak tevrede te stel en om jou op ’n musikale wipplankrit te neem. Drie songs verdien tog die spotlight: “FLVJ” (’n rock cheeseball song wat jy uit volle bors sal wil saamsing), “Parkiebank, herfs 2017” (rap-verse en een van die coolste boodskappe op die album) en “Komma” (‘n tranetrakker ballade wat dalk selfs Francois en Karen se “Toe Vind Ek Jou” oortref in skoonheid).


Johnny het uiters mooi gemaak met die album se produksie. Tegnies sit dit verseker vir hulle vorige uitreikings ore aan en dis van begin tot einde ’n lekker-luister ervaring wat elke instrument en die algehele vermenging betref. Die instrumentasie is seepglad en vol woema en dis duidelik dat elke lid net meer selfversekerd is van hulle vermoëns en talente. Die albumkuns (en veral die voorblad wat dui om selfvernietiging en hergeboorte) is ook iets om te beleef en maak van Selfmedikasie werklik ’n alles-in-een pakket.

Fokofpolisiekar het nog altyd die ongelooflike vermoë gehad om met hulle musiek relevant tot vandag te bly, maar terselfdertyd ook tydloos te wees. Dis waarom ons steeds na die eerste album kan luister asof dit gister uitgekom het. Ek glo vas dit gaan ook die geval met die dertien snitte op Selfmedikasie wees. Fokofpolisiekar is en bly die klankbaan vir ons land se jonges van gees – diegene wat met ander oë na die wêreld kyk, die norme bevraagteken en hulle eie koers wil inslaan. Fokofpolisiekar is en bly die onwaarskynlike, nederige helde van Bellville en sal aanhou harte en lewens verander met Selfmedikasie.


17 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page